2010 2 SA 507 (HHA)


Die outomatiese beëindiging van onderhoudsbevele ingevolge artikel 7(2) van die die Wet op Egskeiding 70 van 1979

  L Neil van Schalkwyk
 Universiteit van Pretoria


 44 Volume 1 2011 pp 170-178
  Download Case Note in PDF
 Read the judgment of the court on SAFLII


1 Inleiding

Die outomatiese beëindiging van onderhoudsbevele gegee ingevolge artikel 7(1) of (2) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 is nie ’n nuwe onderwerp nie. (Sien aan die een kant die vraagstuk na die outomatiese beëindiging van onderhoudsbevele ingevolge artikel 7(1) met betrekking tot veral die hertroue van die onderhoudsgeregtigde of die dood van die onderhoudspligtige. (Sien ten opsigte van die hertroue van die onderhoudsgeregtigde oa Smit v Pienaar Ongerapporteerde saak 13829/94 (K); Geldenhuys v Meyers and the Sheriff of the Supreme Court of South Africa, South Eastern Cape Local Division Ongerapporteerde saak 556/96 (SOK); Van Der Vyver v Du Toit 2004 4 SA 420 (T); Odgers v De Gersigny 2007 2 SA 305 (HHA); Welgemoed v Mennel 2007 4 SA 446 (SOK). Ten opsigte van die dood van die onderhoudspligtige sien Colly v Colly’s Estate 1946 WLD 83; Owens v Stoffberg NO and Another 1946 CPD 226; Hughes v The Master and Another 1960 4 SA 936 (K); Milne v Estate Milne 1967 3 SA 362 (K); Copelowitz v Copelowitz and Others NO 1969 4 SA 64 (K) wat beslis is alvorens a 7(1) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 inwerkinggetree het. Aan die ander kant sien Hodges v Coubrough NO 1991 3 SA 58 (D) met betrekking tot die outomatiese beëindiging van ’n onderhoudsbevel ingevolge a 7(2) by die dood van die onderhoudspligtige. Sien ook Hahlo “Premium on divorce” 1969 SALJ 385 ev; Hahlo The South African Law of Husband and Wife (1985) 370 ev; Van Schalkwyk “Dood en hertroue as beëindigingswyses van onderhoudsbevele tussen eggenotes ingevolge die Wet op Egskeiding 70 van 1979” 2002 De Jure 144 ev; Van Schalkwyk “Odgers v De Gersigny 2007 2 SA 305 (HHA)” 2008 De Jure 215 ev; Van Schalkwyk “Dood en hertroue as beëindigingswyses van onderhoudsbevele tussen voormalige eggenotes ingevolge die Wet op Egskeiding 70 van 1979” in Boezaart en De Kock (reds) Vita perit, labor non moritur Liber memorialis: PJ Visser (2008) 233 ev as sekondêre bronne wat hierdie onderwerp onder bespreking neem.) Die onderwerp kom weer vir beslissing in die saak van Kruger NO v Goss and Another (supra). Dit is die doel van hierdie aantekening om beëindiging van ’n onderhoudsbevel uitgevaardig ingevolge artikel 7(2) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 by die dood van die onderhoudspligtige ingevolge die beslissing van hierdie saak weer krities te ondersoek.


2 Die Feite van die Saak

Die feite van hierdie saak is nie kompleks nie. Nadat die respondente en haar man drie jaar getroud was, is die huwelik by wyse van egskeiding ontbind. Respondente was die verweerderes in hierdie geding en het as teeneis rehabilitatiewe onderhoud geëis. Die eis vir rehabilitatiewe onderhoud ingevolge artikel 7(2) is vir onder andere (en vir hierdie bespreking belangrik) R6 000 per maand vir 57 maande toegestaan. Respondente se gewese man het hierdie onderhoudsbevel vir 33 maande nougeset nagekom, toe hy aan natuurlike oorsake oorlede is. Sy seun (uit ’n vorige huwelik), die appellant, is as eksekuteur van sy boedel aangestel. Respondente het ’n eis vir R144 000 (24 maande x R6 000) teen die boedel ingedien. Nadat appellant regsadvies hieroor ingewin het, het hy die eis verwerp. Respondente het toe ’n aansoek na die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria gebring vir ’n verklarende bevel dat die boedel aan haar R144 000 verskuldig is. Hierdie aansoek is toegestaan. Dit is teen hierdie bevel dat die huidige appèl gebring word.


3 Die Hof se Beslissing en Redes: Bespreking

Die appèl is suksesvol en die bevel van die hof a quo is opgehef. Die rede (ratio decidendi) vir hierdie beslissing is te vinde in die siening van die hof, by monde van appèlregter Navsa, dat artikel 7(2) nie in isolasie uitgelê kan word nie, maar dat dit in die lig van die gemenereg uitgelê moet word (509E-F) in navolging van die beslissing van regter Didcott in Hodges v Coubrough NO (supra veral 62H-63A) en dat artikel 7(2) nie uitgelê kan word om die gemenereg te wysig nie (510A-B). Artikel 7(2) bepaal dat ’n hof, ’n onderhoudsbevel mag maak in die afwesigheid van ’n onderhoudsooreenkoms tussen die partye na oorweging van die faktore in die subartikel aangegee. Die subartikel bepaal ook dat die onderhoudsbevel outomaties tot ’n einde kom by hertroue of dood van die onderhoudsgeregtigde. Die subartikel vermeld niks oor die dood of hertroue van die onderhoudspligtige nie. In kommentaar op hierdie bepaling vermeld die hof dan dat die artikel nie in isolasie uitgelê mag word nie, maar dat die gemenereg by die uitleg daarvan betrek moet word. Die gemeenregtelike reël van onderhoudsvoorsiening tussen eggenotes bepaal dat die reg op en die verpligting tot onderhoudsvoorsiening, ’n gevolg van die huweliksverhouding is (509F) en dat hierdie verpligting en reg by ontbinding van die huwelik deur dood (509F) of egskeiding tot ’n einde kom. (Sien ook Hodges v Coubrough NO supra veral 62H-63A.) Die Hoogste Hof van Appèl in Kruger (supra) bevestig met hierdie uitspraak, die beslissing in Hodges v Coubrough NO (supra) dat artikel 7(2) nie in isolasie uitgelê mag word nie en dat gevolglik ingevolge die gemeenregtelike reël, die onderhoudsbevel by dood van die onderhoudspligtige outomaties verval.

Die Hoogste Hof van Appèl verwys in sy uitspraak nie na die sake van Odgers v De Gersigny (supra) of Welgemoed v Mennell (supra) nie. Alhoewel beide van hierdie sake handel met die beëindiging van ’n onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(1) wat op ooreenkoms berus, is die uitsprake van hierdie sake vir die huidige bespreking myns insiens nie sonder waarde nie. Ek kyk eerste na Welgemoed v Mennell (supra). Die partye kom ooreen dat applikant aan respondente onderhoud sal betaal tot aan die einde van haar lewe. (Klousule 2.5 van die onderhoudsooreenkoms soos weergegee op 447C.) ’n Paar jaar later hertrou respondente, maar hierdie huwelik word twee maande later in die egskeidingshof ontbind. Applikant doen nou aansoek om ’n verklarende bevel dat die onderhoudsbevel outomaties by hertroue van die respondente verval het en haal Van der Vyver v Du Toit (supra) as gesag aan. Volgens laasgenoemde saak kom die bevel outomaties tot ’n einde op grond van ’n stilswyende bepaling, tensy die pligtige uitdruklik van hierdie reg afstand gedoen het (par 19). Volgens die siening van regter Selikowitz in die Welgemoed-saak is die stilswyende bepaling waarvan hier melding is nie van die gemenereg afkomstig nie (450F) en hiermee word saamgestem. As rede voer hy aan dat die reg om onderhoud te eis gemeenregtelik reeds by egskeiding opgehef is (450F-G). Die onderhoudsreg en -verpligting ter sprake word kontraktueel geskep en ingevolge artikel 7(1) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 in die hofbevel opgeneem. (450G. Die Hoogste Hof van Appèl in Odgers v De Gersigny supra par 8 is van dieselfde mening.) Artikel 7(1) bevat nie ’n stilswyende bepaling dat by hertroue van die geregtigde, die onderhoudsbevel outomaties opgehef word nie. Dit gebeur alleen indien hertroue as beëindigingswyse in die ooreenkoms (hetsy uitdruklik hetsy stilswyend) vervat is. Geen stilswyende bepaling van regsweë kan ingelees word nie, omdat die gemeenregtelike onderhoudsplig en -aanspraak by egskeiding beëindig is en gevolglik moet beëindiging van die bevel ingevolge die uitdruklike of stilswyende bepalings van die ooreenkoms bepaal word. Indien hierdie uitspraak met dié in Kruger vergelyk word, ontken die hof in Welgemoed die bestaan van hertroue as ’n stilswyende gemeenregtelike bepaling wat die onderhoudsbevel outomaties beëindig. Hiermee word volmondig saamgestem aangesien onderhoudsvoorsiening tussen eggenotes gemeenregtelik by ontbinding van die huwelik (bv deur egskeiding) beëindig is. In Kruger erken die Hoogste Hof van Appèl egter steeds die stilswyende gemeenregtelike bepaling dat die onderhoudsbevel outomaties by dood van die pligtige verval. Die Hoogste Hof van Appèl neem glad nie dié standpunt in ag nie dat die gemeenregtelike reël nie toepassing kan vind nie, aangesien die huwelik reeds by egskeiding ontbind is. Dit open die deur vir debat oor wat die uitspraak sou wees indien hierdie argument wel oorweeg is. My standpunt is dat die beslissing van regter Selikowitz in Welgemoed logies aanneemlik is. Die gemeenregtelike reël wat meebring dat onderhoud tussen eggenotes by beëindiging van die huwelik tot ’n einde kom, vind nie meer toepassing nie aangesien die onderhoud nou deur wetgewing en ’n onderhoudsooreenkoms beheers word. Die uitspraak van appèlregter Navsa in die Kruger-saak pas die gemeenregtelike reël nadat die huwelik reeds deur egskeiding ontbind is weereens toe en dit blyk nie logies te wees nie. Die reël is tog sekerlik nou reeds uitgedien. (Sien ook Van Schalkwyk in Boezaart en De Kock (reds) (2008) 254.) Indien hierdie standpunt en kritiek teen die beslissing in die Kruger-saak nie oortuigend is nie, bevestig Odgers v De Gersigny (supra) myns insiens ook die standpunt dat die Kruger-saak verkeerd beslis is, alhoewel die ratio hiervoor van die Welgemoed-beslissing verskil.

In Odgers v De Gersigny (supra) word ’n onderhoudsooreenkoms by egskeiding bereik waarby onderhoud aan die geregtigde vir ’n sekere tydperk voorsien word. Twee maande na egskeiding hertrou respondente en appellant hou op om onderhoud te betaal soos ooreengekom. Die hof beslis nie oor die regsvraag of ’n onderhoudsbevel outomaties by hertroue van die geregtigde verval nie en is dié beslissing gevolglik op hierdie punt slegs obiter. Die Hoogste Hof van Appèl ontken dat die onderhoudsbevel by hertroue van die geregtigde beëindig, indien die onderhoudsooreenkoms uitdruklik vermeld dat die onderhoudsbevel vir ’n sekere tydperk betaal moet word en die geregtigde voor verstryk van daardie tydperk hertrou. Die hof beskryf dit só ([10]):

    ... It remains to consider whether there is scope for the implied term imposed by common law contended for by the appellant’s counsel - effectively that the obligation to pay maintenance shall, in all cases, terminate on remarriage or death. In this case, the express provisions of the maintenance clause, which are specific regarding the duration of the obligation, are in conflict with the contradictory implied term contended for. A term imposed by law may not be implied in total disregard of the parties’ intention and will not be implied if it is in conflict with the express provisions of the contract. The contradictory clauses cannot co-exist.

Ingevolge hierdie siening beëindig die onderhoudsvoorsiening nie by dood van die pligtige nie, omdat die ooreenkoms wat bepaal dat die onderhoud vir sekere periode voorsien moet word, die toepassing van die stilswyende gemeenregtelike reël dan uitskakel of kanselleer. Indien hierdie obiter siening op die Kruger-beslissing toegepas word, verval die bevel ook nie outomaties by dood van die pligtige nie. Hierdie beslissing is ook nie in die Kruger-saak oorweeg nie.

Op grond van bogenoemde kritiek wil dit voorkom of die ratio decidendi in die Kruger-saak verkeerd is en die beslissing gevolglik nie korrek kan wees nie.

Benewens bogenoemde siening van regter Didcott in die Hodges v Coubrough NO (supra) wat die ratio decidendi van die beslissing in Kruger is, voer regter Didcott ten minste nog vier redes aan waarom ’n onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(2) by dood van die pligtige tot ’n einde kom. Daar word kortliks ook na hulle verwys.

(i) Eerstens, is die hof van mening dat indien dit die bedoeling van die wetgewer was om onderhoud na dood van die pligtige te laat voortduur, die wetgewer uitdruklik daarvoor voorsiening sou gemaak het. “It would hardly have left such to be conveyed by the sidewind of generally worded provisions which, while accommodating the idea linguistically, dealt with it obliquely and elliptically.” (64E-F.) Die wetgewer vermeld alleen in artikel 7(2) die omstandighede wat tot beëindiging van die bevel aanleiding gee met spesifieke verwysing na die posisie van die geregtigde; die dood van die pligtige word vanselfsprekend aanvaar die onderhoudsbevel te beëindig (64G). Hoekom die wetgewer alleen na die posisie van die geregtigde verwys, verklaar die hof deur te sê dat die hertroue van die geregtigde sekerlik die hoofbeweegrede was en dat die wetgewer toe maar om die prentjie ten opsigte van die geregtigde ten volle te skets ook die dood van die geregtigde ingesluit het (65H-I). Toe artikel 7(2) op die wetboek verskyn het, was die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 nog nie in werking nie en het ’n weduwee nog geen eis vir onderhoud teen die oorlede gade se boedel gehad nie (64B-C). In die lig hiervan is dit vir die hof nouliks denkbaar dat ’n onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(2) na dood van die onderhoudspligtige kan voortduur deur “... giving them rights against the estates of people no longer married to them at the time of death which widowed spouses did not enjoy against the estates of those to whom they were then still married.” (64D-E van die Hodges-saak.) Hierdie standpunt word met goedkeuring deur die beslissing onder bespreking aangehaal (par [12]). Die oortuigingskrag van hierdie standpunt is nie oortuigend nie. Die geskeide gade was in elk geval ingevolge artikel 7(2) in ’n gunstiger posisie as die weduwee sover dit die gemeenregtelike onderhoudsverpligting betref. Ingevolge artikel 7(2) word, soos reeds gesê, die gemeenregtelike reël opgehef, maar die gemeenregtelike reël het steeds voortbestaan by dood totdat dit eers met inwerkingtreding van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 afgeskaf is.

(ii) Tweedens, verwerp die hof die uitsprake in die reeks beslissings van Colly v Colly’s Estate (1946 WLD 83), Owens v Stoffberg NO and Another (1946 CPD 226) en Hughes NO v The Master and Another (1960 4 SA 936 (K)) as gesag vir die standpunt dat die onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(2) by dood van die pligtige voortduur. (65I-66C. Al drie hierdie sake het die boedel van die oorlede onderhoudspligtige aanspreeklik gehou ingevolge ’n onderhoudsooreenkoms wat by egskeiding, ’n bevel van die hof gemaak is.) Regter Didcott in Hodges (supra) motiveer dit met verwysing na die verskil in uitleg van ’n statutêre bepaling (soos `n onderhoudsbevel ingevolge a 7(2)) en ’n onderhoudsbevel wat op ooreenkoms gefundeer is (soos ’n onderhoudsbevel ingevolge a 7(1)). In die geval van ’n onderhoudsbevel wat op ooreenkoms berus (a 7(1)) moet die ooreenkoms uitgelê word om ’n antwoord te verskaf op die vraag of die bevel na dood van die pligtige voortduur (66D-E). In die geval van wetgewing, moet die bedoeling van die wetgewer vasgestel word (66F). In laasgenoemde geval, naamlik wanneer die bedoeling van die wetgewer vasgestel moet word, moet hy die uitleg van die wetgewing ook die gemenereg in ag neem, wat nie deel uitmaak van die uitleg van ’n onderhoudsbevel ingevolge ooreenkoms nie (66F) en mag die wetgewing dus nie in isolasie van die gemenereg uitgelê word nie. Appèlregter Navsa in Kruger NO v Goss and Another (supra) verwys nie na hierdie onderskeid nie. Hierdie verskil in uitleg van ’n onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(1) aan die een kant en ’n onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(2) aan die ander kant word deur ’n verdere oorweging bevestig. Regter Didcott stel dit só (66G-67A):

    Then there is a further consideration, a rule governing contractual obligations which has no counterpart in the area of those generated statutorily. The rule lays down that the estate of each party to a contract is liable when he dies to perform every obligation incurred by him in terms of it which he, if alive, would have had to fulfill. For he is deemed to have undertaken such on behalf of his estate as well as himself. The rule is subject to a couple of exceptions. It does not apply to any contract that provides otherwise, expressly or impliedly. Nor does it operate when the performance required was the sort appropriate to the deceased alone ... The obligation is then extinguished by his death. That does not go, however, for the payment of maintenance. ... It is therefore unhelpful, I believe, to compare the wording of the legislation with that of the agreements examined in the three judgments cited.

(iii) Derdens, verwys die regsverteenwoordiger van applikante in die Hodges-saak (supra) ook na Copelowitz v Copelowitz and Others NO (1969 4 SA 64 (K)) waar regter Van Zijl van mening is dat ’n onderhoudsbevel ingevolge artikel 10(1)(a) van die Wet op Huweliksaangeleenthede 37 van 1953 (die voorloper van artikel 7(2) onder bespreking) na die dood van die pligtige voortduur. Regter Didcott verwerp hierdie beslissing op twee gronde. Aan die een kant vermeld hy dat Copelowitz die enigste beslissing is waar bevind is dat die onderhoudsbevel, net soos in gevalle waar die onderhoudsbevel op ooreenkoms berus, nie by dood van die pligtige verval nie. Aan die ander kant verwerp hy ook die beslissing op grond van die voormelde verskil in uitleg van ’n bevel wat op ooreenkoms berus en een wat nie op ooreenkoms berus nie. (Hierbo (ii).)

(iv) Vierdens, vermeld regter Didcott dat indien hy in die bogenoemde beskouing verkeerd is, bestaan daar om die minste te sê groot twyfel oor die bevoegdheid van die hof om ingevolge artikel 7(2) ’n onderhoudsbevel te maak wat na dood van die pligtige voortbestaan. Hy stel dit in die volgende woorde (69E-G):

    Perhaps, however, I am wrong in taking that definite view. If so, I feel the problems are such that I can with safety go the length of regarding the existence of the power as highly doubtful at least. Experience shows, what is more, that the doubts are hardly mine alone. Since the Matrimonial Affairs Act was passed in 1953, after all, awards of maintenance running into hundreds of thousands must have been made throughout the land in the absence of agreement. Countless people on the paying side must have died by now. Yet I know of no single case of that kind in which the contention has previously been advanced that any of their estates happened to be liable. The lack of such for almost 40 years tells against a widespread belief in the transmissibility of the obligation. It suggests rather an assumption to the contrary which appears to have been pretty universal.

(b) Die hof in Kruger verwerp ook die standpunt van die hof a quo waar beslis is “... that s 7(2) was inapplicable, in that rehabilitative maintenance is ‘an animal of its own’, and if ordered in the terms referred to in para [3], the estate of the ‘maintaining spouse’ is liable to pay the outstanding maintenance.” (510E.) Ongelukkig het ek nie die beslissing van die hof a quo in my besit nie en kon ek dit nie self lees nie. Indien regter Hartzenberg wat die beslissing in die hof a quo gelewer het, hiermee bedoel het dat rehabilitatiewe onderhoud nie ingevolge artikel 7(2) beveel mag word nie, sou ek daarvan wou verskil en saamstem met die beslissing van appèlregter Navsa dat rehabilitatiewe onderhoud ook ’n spesie van onderhoud is en dat artikel 7(2) ook vir rehabilitatiewe onderhoud voorsiening maak (510D-E). Die advokaat vir die respondente het egter voor die hofsaak toegegee dat indien rehabilitatiewe onderhoud as ’n spesie van onderhoud gesien word, moet die appèl slaag. (Vgl 510D van die verslag.) Waarom hierdie standpunt ingeneem is, is nie vir my duidelik nie. Gevolglik beslis die hof moet die appèl vir hierdie rede alleen slaag (510E). Ek stem saam dat rehabilitatiewe onderhoud ’n spesie van onderhoud is en dat artikel 7(2) daarvoor voorsiening maak. Dit is egter een ding om hiermee saam te stem, maar ’n totaal ander ding om hiermee ook te sê dat die rehabilitatiewe onderhoudsbevel dan ook noodwendigerwys as gevolg van die gemeenregtelike beginsels wat onderhoud tussen gades ten grondslag lê by die dood van die onderhoudspligtige beëindig word.

(c) Die hof wys dan ook op verdere oorwegings wat die uitleg soos reeds genoem bevestig en wat teen die uitspraak van die hof a quo stry (510E). Indien die eis van die respondente gehandhaaf word, sou dit tot verskeie ongewenste gevolge aanleiding gee (510F). Ek noem hulle kortliks en nommer hulle self:

(i) Die aanspraak op onderhoud uit die boedel van die oorledene deur sy kinders mag verminder of uitgewis word (510F).

(ii) Die regte van bevoordeeldes mag betrek word of in gedrang kom (510F).

(iii) Teoreties mag die eis vir onderhoud onder bespreking meeding met die eis vir onderhoud van ’n langslewende gade en die kinders van die oorledene en die eis van bevoordeeldes van die oorledene (510G-H). Punt (iii) is myns insiens ’n herformulering van punte (i) en (ii) waartoe die eis om onderhoud van ’n langslewende gade bygevoeg word. Dit word uitdruklik bepaal dat die eis/vordering vir onderhoud van die langslewende gade ingevolge die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 dieselfde rangorde teenoor ander vorderings teen die boedel beklee as wat ’n vordering vir onderhoud van ’n afhanklike kind van die afgestorwe gade teen die boedel beklee en indien die vordering van die langslewende gade en dié van ’n afhanklike kind met mekaar meeding, word die vorderings indien nodig, eweredig verminder. (Sien a 2(3)(a) van die Wet.) Hierdie bepaling is natuurlik nie van toepassing op die onderhoudsvordering van die geskeide gade van die afgestorwe gade nie. Desnieteenstaande hierdie feit mag die eis van die geskeide gade, indien dit erken word, volgens die siening van appèlregter Navsa in die saak onder bespreking, meeding met die eise hierbo vermeld. Die wyse van meedinging word nie vermeld nie. Daar is gesag voor hande wat in wese die meedinging ingevolge die bepaling van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990 reeds voor inwerkingtreding van die vermelde wet inlui en ondersteun. (Sien bv Chizengeni v Chizengeni 1989 1 SA 454 (ZHH) veral 456. Sien ook Joubert 1980 De Jure 80 93-94; Hahlo 366.) Daar is egter ook gesag wat nie hierdie meedinging voorstaan nie, maar aan die geskeide gade ’n sterker reg as aan die langslewende/huidige gade erken omdat die reg eerste gevestig is en die langslewende/huidige gade sekerlik ook daarvan moes geweet het alvorens die huwelik gesluit is. (Sien oa Hancock v Hancock 1957 2 SA 500 (K) 503B, 506H-507A; Loubser v Loubser 1958 4 SA 680 (K) 684; Dawe v Dawe 1993 1 SA 141 (Z) 143D-E, 144A; Reid v Reid 1992 1 SA 443 (OK) 448E-H; Davis v Davis 1993 1 SA 293 (SOK) 296E-G, maar waar die hof op 296F ook byvoeg dat hierdie bevoorregte posisie van die geskeide gade nie absoluut is nie.) Gevolglik is die sogenaamde ongewenste gevolge waarvan appèlregter Navsa praat, nie nuut en onbekend nie en verdien dit hoegenaamd nie om as rede te dien vir die outomatiese beëindiging van die vordering by dood van die pligtige nie.

(iv) Laastens word daar op die onderhoudsbeginsel gewys dat onderhoud altyd relatief tot die vermoë en behoefte van die onderskeie gades is en dat as hierdie aspekte verander behoort dit as ’n veranderde omstandigheid te kwalifiseer wat aanleiding tot die wysiging van die bevel kan dien. (510H-I. Vgl ook bv die bewoording van artikel 8(1) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979 wat voorsiening maak vir onder andere die wysiging van ’n onderhoudsbevel verleen ig die Wet op Egskeiding, indien daar “voldoende rede” daarvoor bestaan.) Hierop sê appèlregter Navsa (511A-B): “To subject a deceased estate to assessments of this kind is not only undesirable, but appears to me to offend against first principles.”

Dit is sekerlik so dat hierdie berekenings moeilik vasstelbaar en berekenbaar is (sien bv ook Ex parte Jacobs 1982 2 SA 276 (O) 279 waar waarnemende-regter Smit ten opsigte van die onderhoudseise van afhanklike kinders teen die boedel van ’n oorlede ouer vermeld dat dit nie moontlik is om vir alle gebeurlikhede in die onderhoudsbevel voorsiening te maak nie), maar om dit as “ongewens” te beskou, mag sekerlik nie as rede dien waarom die bevel nie mag/kan voortbestaan nie. In casu is dit ’n vasgestelde bedrag vir ’n vaste tydperk wat sekerlik nie onder dieselfde probleme as waarna verwys word, gebuk gaan nie.


4 Slot

Ek volstaan met die onderstaande opmerkings en/of kommentaar:

    (a) Rehabilitatiewe onderhoud het ingevolge hierdie beslissing slegs ’n beperkte toepassing wat net tydens die lewe van die onderhoudspligtige betekenis en toepassing het. Die oomblik as die onderhoudspligtige sterf, kom die rehabilitatiewe onderhoudsbevel outomaties tot ’n einde, desnieteenstaande die Hoogste Hof van Appèl erken dat artikel 7(2) vir rehabilitatiewe onderhoud voorsiening maak (hierbo par 3(b)). Hierdie effek van die beslissing is myns insiens grondwetlik aan te veg. Indien die rehabilitatiewe onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(1) gemaak is, is daar weinig twyfel dat in die lig van beide Odgers as Welgemoed die onderhoudsbevel nie by dood van die onderhoudspligtige outomaties sou verval het nie. Hierdie verskil in uitleg en effek met die beslissing onder bespreking lyk op die oog af na ’n oortreding van artikel 9(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, wat ook nie ingevolge artikel 36 van die Grondwet regverdigbaar is nie. In die lig van hierdie opmerking en kommentaar, is ek van oordeel dat hierdie beslissing, net soos Hodges v Coubrough NO (supra), met respek gesê, verkeerd beslis is. (Vgl ook Van Schalkwyk in Boezaart & De Kock (reds) (2008) 254.)

    (b) Indien die Hoogste Hof van Appèl kennis van die beslissing in Welgemoed (supra) geneem en toegepas het (sien die bespreking hierbo 3(a)), vind geen stilswyende (gemeenregtelike) ontbindingsbepaling toepassing nie en moet daar outomaties aan die bepalings van die rehabilitatiewe onderhoudsbevel (hetsy ingevolge a 7(1) hetsy ingevolge a 7(2) van die Wet op Egskeiding 70 van 1979) uitvoering gegee word. Die effek hiervan is dat geen onderhoudsbevel uitgevaardig ingevolge artikel 7(2) by die dood van die onderhoudspligtige outomaties tot ’n einde kom nie, tensy die bevel anders bepaal.

    (c) Indien die Hoogste Hof van Appèl kennis van die beslissing in Odgers (supra) geneem en toegepas het (sien hierbo 3(a)), is die effek minder uitgebreid as dié van die Welgemoed-saak en sal rehabilitatiewe onderhoudsbevele (gekoppel aan ’n ontbindende voorwaarde of termyn) nie by dood van die onderhoudspligtige verval nie, indien die onderhoudspligtige voor vervulling van die ontbinde voorwaarde of termyn sterf. Die rede hiervoor is te vinde in die feit dat die stilswyende (gemeenregtelike) ontbindingsbepaling nie toepassing vind indien die bepalings van die onderhoudsbevel strydig daarmee is nie.