deur KOOS MALAN
Pretoria University Law Press 2011 vii en 358 bladsye
Koos Malan is nie iemand wat in sy geskrifte oor die reg en verwante dissiplines bloot ’n beskrywende weergawe gee van die voorwerp van sy ondersoek nie. Ek sou hom ook nie tot die genre beperk van outeurs wat agter die empiriese substansie van dit wat is, na ’n historiese basis, teoretiese begronding en/of eties gefundeerde waardesisteem op soek gaan nie. Koos Malan is ’n diep denker wat fundamenteel gewortelde en kwalifiserende werklikheidsmomente ontbloot en wat die sin en betekenis van instellings, norme, en waardes van die wêreld waarin ons leef, kwalifiseer. “Politokrasie” of “’n politokratiese orde”, afgelei van die klassieke Griekse begrippe polis (staat) en politai (burgers) (276), gaan op soek na “’n politiek-juridiese orde” (10), en meer bepaald na dit wat bepalend is vir die dieper-liggende realiteit van daardie orde. Inhoudelik gaan dit om die territoriale staat en ons verbondenheid aan ’n politieke orde – histories en kontemporêr.
Politokrasie bevat ’n rykdom van historiese gegewens rondom die vestiging en ontwikkeling van ’n territoriale staat wat veranker is in ’n bepaalde godsdienstige vooroordeel en daaropvolgende sekularisasie van die gangbare politieke denke, maar uiteindelik beslag begin kry het met die Vredesverdrag van Augsburg wat die Dertigjarige Oorlog (1618- 1648) in Europa tot ’n einde gebring het. Ontwikkeling van die staatsbegrip het natuurlik nie daar opgehou nie, en binne die paradigma van politokrasie, ontleed die skrywer na-middeleeuse en kontemporêre waardesisteme wat die res publicae kwalifiseer. Res publicae in dié sin word nie deur die skrywer tot die sakeregtelike betekenis van daardie begrip beperk nie, maar beteken vir hom meer bepaald “die gemenebes – openbare sake van algemene belang vir alle burgers” (291).
Kortom, die leser wat miskien nie sin het aan die diep denke van Koos Malan nie, sal nietemin veel baat kan vind by die rykdom aan historiese gegewens wat in Politokrasie vervat is. Daarmee gaan saam besonder waardevolle verwysings na die denke van rigtinggewende politieke filosowe, waaronder Thomas Hobbes, John Locke, Hugo de Groot, JeanJacques Rousseau, John Rawls en vele andere. Politokrasie bied die leser 634 2013 De Jure ook waardevolle inligting oor basiese staats- en regsfilosofiese waardesisteme, waaronder die instelling en toepassing van staatlike demokrasie, die leerstuk van menseregte en die reg op selfbeskikking van etniese, geloofs- en taalgemeenskappe.
Burgerskap is ook veel meer as net ’n bepaalde openbare identiteit en nasionale groepsnaam, of die aanspraak op ’n paspoort. Dit behels “mede-regering van die res publicae”, “die daadwerklike en deurlopende deelname aan, en verantwoordelikheid neem vir die res publicae”, “die bekleding van ’n amp, waarvolgens burgers deur aktiewe handeling daadwerklik vir die res publicae verantwoordelikheid aanvaar en daaroor beskik” (279). Miskien sou die skrywer ook nog ietwat dieper kon delf om ’n bepaalde psigiese samehorigheidsgevoel van nasieskap te ontbloot; miskien dit wat deur Von Savigny as die volksgees, ’n grondliggende nasionale ethos, geïdentifiseer is en wat sy stempel afdruk op ons nasionale bewussyn en regsinstellings en besielend in die tydsgees van ’n bepaalde era veranker lê. Professor Silvio Ferrari van die Universiteit van Milan verwys daarna as ’n burgerlike religie (“civil religion”); nie net die “koue verwisseling van regte en verpligtinge” nie, maar “iets meer, wat die harte van die burgers verwarm” (Ferrari “Introduction: Civil religions: Models and perspectives” 2010 Geo Wash Int LR 749). En daar is ook ’n belangrike les te leer uit die op skrif gestelde herinneringe van Professor Karl Doehring, wat jare lank aan die Max Planck Instituut in Heidelberg, Duitsland verbonde was en wat hy kort voor sy dood voltooi het: Geleerdes van die huidige geslag kan wel akademies besin oor beleidstandpunte en gebeure van die verlede; maar as hulle dit nie self beleef het nie, kan hulle nie die begronding van die leerstellinge, gewortel in ’n bepaalde tydsgees, volkome na waarde skat nie (Doehring Von der Weimarer Republik zur Europäischen Union Erinnerungen (2008)).
Miskien dan nog net enkele punte van kritiek.
Wat die volkeregtelike vereistes vir staatskap betref, verwys die skrywer slegs na die Montevideo beginsels, oftewel die verklarende teorie van staatskap (100). Daar is egter ook die konstituerene teorie wat die klem laat val op erkenning van ’n gebied se staatskap deur ander lede van die internasionale gemeenskap van state. John Dugard het die konstituerene teorie van die ander kant bekyk deur daarop te wys dat nie-erkenning deur die Verenigde Nasies onomwonde bewys is dat ’n gebied wat op staatskap aanspraak maak, nie vir staatskap vir volkeregtelike doeleides kwalifiseer nie (Dugard Recognition and the United Nations (1987)). Ek het self aan die hand gedoen dat daar ’n onderskeid getref moet word tussen staatskap in inter-individuele verhoudings tussen state aan die een kant en vir die doeleindes van staatlike gemeenskapsverhoudinge aan die ander kant. ’n Gebied wat ongeregverdig op staatskap aanspraak maak (bv die Turkse Republiek van Noordelike Ciprus) kan in onderlinge diplomatieke, handels- en ander internasionale betrekkinge tree met ’n staat wat daardie gebied se staatskap erken (Turkye), maar sal nie deel uitmaak van die internasionale gemeenskap van state wat lede kan word van die Verenigde Nasies, of wie se doen en late in berekening gebring sal word vir die skepping van volkeregtelike gewoontereg nie (Van der Vyver “Statehood in international law” 1991 Emory Int LR 9).
Wat woordkeuse betref, is daar oor die algemeen nie fout te vind met die onderskeid wat die skrywer maak tussen volk (’n etniese of kulturele gemeenskap) en nasie (gebaseer op burgerskap van ’n bepaalde staat) nie. Waar hy egter sy eie voorkeur vir die begrip “territoriale staat” eerder as “nasiestaat” regverdig, motiveer hy dit op grond daarvan dat “’n soewereine politieke organisasie binne ’n vasgestelde gebied” gevestig kan word “ongeag of daar enige kulturele, linguistieke, godsdienstige of etniese gemeenskaplikheid by die staatsbevolking aanwesig is” (9). Hoewel dit waarskynlik nie so bedoel is nie, kan die argument geïnterpreteer word as sou “nasie” met “kulturele, linguistieke, godsdienstige of etniese gemeenskaplikheid” geïdentifiseer moet of kan word.
Etniese, godsdienstige en taalgemeenskappe is inderdaad as subjekte van die volkereg van groot belang, naamlik as die draers van ’n reg op selbeskikking (vgl ook arts 31 en 185-187 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika), en in Politokrasie word pertinent daarna verwys met ’n oorsigtelike analise van die geskiedenis en betekenis van daardie konsep in die volkereg. Die skrywer het egter miskien nie volkome rekenskap gegee van die verskillende betekenisse van “selfbeskikking” soos wat dit sedert die Eerste Wêreldoorlog beslag gekry het nie – miskien omdat hy hom te beknop van ’n publikasie van Cherif Bassiouni oor die onderwerp laat bedien het.
Die term “selfbeskikking” het eintlik sy oorsprong in kommunistiese literatuur. Volgens Karl Marx en Friedrich Engels sou die ganse wêreld mettertyd deur bemiddeling van ’n revolusie van die proletariaat aan ’n ekonomiese struktuur onderwerp word waarin private eiendomsreg verbode sou wees en alles aan almal sou behoort. Die vraag het egter ontstaan oor wat die status sal wees van nasionale state binne hierdie, ononderhandelbare, oorkoepelende ekonomiese struktuur. In afsonderlike geskrifte van Joseph Stalin (Marxism and the national question (1913)) en Lenin (Thesis on the socialist revolution and the right of nations to self-determination (1916)) word aan die hand gedoen dat hulle ’n reg op selfbeskikking sal hê. Die relevansie van die begrip in die volkereg word egter gangbaar aan die Amerikaanse President, Woodrow Wilson, toegeskryf. In sy Veertien Punte Toespraak van 8 Januarie 1918 in die Kongres (die Amerikaanse wetgewer) verwys hy onder meer na
[a] free, open-minded, and absolutely impartial adjustment of all colonial claims, based upon a strict observance of the principle that in determining all such questions of sovereignty the interest of the population concerned must have equal weight with the equitable claims of government whose title is to be determined.
Hoewel hy in daardie toespraak nooit die woord “selfbeskikking” gebruik het nie, het hy later wel op 11 Februarie 1918 in ’n toespraak voor ’n gesamentlike sitting van die twee Kamers van die Kongres verklaar:
National aspirations must be accepted; people may now be dominated and governed only by their own consent. ‘Self-determination’ is not a mere phrase. It is an imperative principle of action, which statesmen will henceforth ignore at their peril.
Die reg op selfbeskikking het daarop praktiese beslag gekry in die mandaatstelsel van die Volkebond waaronder die toekomstige status van nasionale state wat deel was van die wêreldryke wat in die Eerste Wêreldoorlog verslaan is, beslag moes kry. Die mandaatstelsel is terloops deur Generaal JC Smuts van Suid-Afrika (hy was deel van die Britse afvaardiging by die vredesonderhandelinge in Versailles) in ’n geskrif van Desember 1918 onder die opskrif “A practical suggestion” ontwerp (Smuts was ook die outeur van die voorrede tot die Handves van die Vernenigde Nasies). Die 1918 geskrif is deur President Woodrow Wilson by sy tweede ontwerp van ’n Statuut vir die Volkebond ingesluit en die mandaatstelsel het toe deel geword van daardie Statuut. Die reg op selfbeskikking (meestal politieke onafhanklikheid) van die nasionale state waarom dit gegaan het, moes onder die leiding en toesig van ’n mandaadstaat met verloop van tyd verwerklik word. Jan Smuts, soos almal weet, was egter ook maar ’n ou jakkals. Sy ontwerp het vir net een C mandaatgebied voorsiening gemaak (Suid-Wes Afrika), wat daarin van die A en B mandate verskil het dat dit bestem sou wees om eventueel by die mandaatstaat (die Unie van Suid-Afrika) ingelyf te word as ’n vyfde provinsie.
Na die Tweede Wêreldoorlog het die klem van die selfbeskikkingsparadigma geskuif na die reg van koloniale gebiede op politieke onafhanklikheid. In die sestiger jare is die begrip ook aangewend om die reg te kenteken van bevolkingsgroepe wat onderworpe was aan ’n rassistiese bewind om deel te hê aan die regering- en wetgewingstrukture van die land waartoe hulle behoort. Hierdie variant van die begrip het voortgespruit uit die standpunt van die Suid-Afrikaanse regering dat die tuislandbeleid in ooreenstemming is met die reg op selbeskikking van die etniese groepe wat op onafhanklikheid aanspraak gemaak het. Die Verenigde Nasies het die standpunt verwerp omdat die tuislandbeleid op die swart bevolking afgedwing is deur ’n regering waarin hulle geen verteenwoordiging gehad het nie.
’n Vierde, en die huidiglik oorheersende, betekenis van selfbeskikking behels die reg van ’n etniese of kultuurgemeenskap om sy eie kultuur te bevorder, van ’n godsdiensgroep om sy godsdiens te beoefen, en van ’n linguistieke gemeenskap om sy taal te praat, sonder ongevraagde en onregverdigbare staatsinmenging. Trouens, die volkereg plaas op die regerings ’n plig om die bevordering van ’n kultuur, die beoefening van ’n godsdiens en die gebruik van ’n taal te ondersteun en te bevorder.
Dit moet beklemtoon word dat die omskrywing van die reg op selbeskikking in Artikel 1 van die Internasionale Verdrag met betrekking tot Burgerlike en Politieke Regte en Artikel 1 van die Internasionale Verdrag met betrekking tot Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte van 1966, wat die reg van “alle bevolkingsgroepe” insluit “om vryelik hulle politieke status te bepaal” aangeneem is gedurende die tyd toe die klem van die reg op selfbeskikking op dekolonialisme geval het en daarom nie lukraak aangewend kan word om die substansie van die reg op selfbeskikking van etniese, godsdienstige en taalgemeenskappe te bepaal nie. Die internasionale gemeenskap is self nie altyd hierop bedag nie. Die Verenigde Nasies se Verklaring met betrekking tot die Regte van Inheemse Bevolkingsgroepe van 2007 gebruik daardie einste woorde om die reg op selfbeskikking van inheemse bevolkingsgroepe te omskryf (art 3), en omdat die reg van ’n bevolkingsgroep om vryelik oor sy politieke status te beslis op politieke onafhanklikheid dui, het vier lande teen aanvaarding van die Deklarasie gestem, naamlik Australië, Kanada, Nieuw Zeeland en die Verenigde State van Amerika. Die Deklarasie vermeld egter self dat geeneen van sy bepalings geïnterpreteer moet word as sou dit geoorloof wees “om die territoriale integriteit of politieke eenheid of soewereiniteit van onafhanklike state te verbrokkel” nie (art 46.1). Om die reg op selfbeskikking van bevolkingsgroepe met politieke onafhanklikheid te vereenselwing maak in elk geval geen sin nie. Dit is per slot van sake ’n territoriale gebied wat in gegewe omstandighede op politieke onafhanklikheid aanspraak kan maak en nie ’n bevolkingsgroep nie.
Ten slotte het ek ietwat kommer omdat die skrywer hom by tye van ’n hoogdrawende skryfstyl laat bedien wat ook anglisismes insluit. Dit gaan nie hier om oorspronklike woordskepping om ongekende begrippe te bekenteken of om meersinnigheid van ’n bestaande woord te vermy nie. Daarvoor is die skrywer goed gekonfyt, soos wat ook uit die titel van sy boek blyk. Ek kom egter uit ’n tyd toe die gebruik van anglisismes as Afrikaner hoogverraad beskou is – behalwe natuurlik as die SuidAfrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns besluit het dat dit voortaan ô-raait sal wees as jy hierdie of daardie verafrikaanste nabootsing van ’n Engelse woord of uitdrukking sou gebruik (die Akademie kon “bromponie” vir “scooter” bemark, maar moes tou opgooi met “melkskommel” ipv “bruismelk” of “as volg” ipv “soos volg”). Daar moet egter nog steeds kapsie gemaak word teen die swak Afrikaanse woordgebruik van mense soos Johan Stemmet van Noot-vir-Noot faam (bv deur ’n gevolgtrekking in te lui met “So, ...” ipv “dus” of “daarom”). Maar, om terug te keer tot Politokrasie, kan met die volgende paar voorbeelde volstaan word: “die politiek-sosiale kohesie ...” (6); “kan ook na Augustinus teruggespeur word” (15); “oor partikuliere grense” (17) “die Engelse spesie van regsoewereinitiet ...” (25); “die grille en voorkeure van …” (105); “partikuliere gemeenskappe” (275). Ek sou ook “basiese norm” bo “grondnorm” verkies as ’n vertaling van Grundnorm (vgl 102) – en let daarop dat Duitse selfstandige naamwoorde met ’n hoofletter gespel word. Eenvoudige en algemeen verstaanbare Afrikaans bly steeds die beste medium, ook in akademiese geskrifte.
Koos Malan verdien egter ’n klop op die skouer en ’n stywe handdruk vir ’n weldeurdagte en indringende analise van die geskiedenis en essensiële eienskappe van die territoriale staat. Daar is, so lyk dit my, 638 2013 De Jure deesdae ’n algemene tendens om regsopleiding uitsluitlik praktykgerig in te klee ten koste van die historiese, teoretiese, en wysgerige begronding van die reg as wetenskap. Dit is jammer. Politokrasie sal die leser daaraan herinner dat universiteite bestem is om akademiese instellings te wees en nie bloot in tegnikons omgeskep moet word nie.
Johan D van der Vyver
Emory University