SJ Cornelius
 Universiteit van Pretoria


  Download Note in PDF


1 Inleiding

Die aanbring van ’n handtekening op ’n skriftelike stuk het ’n belangrike ritueel in die moderne handelsomgang geword. Dit dui daarop dat, na kort of uitgebreide onderhandelinge, die partye tot ’n wedersydse verstandhouding rakende een of ander saak van gemeenskaplike belang gekom het, waarin hulle belowe om saam te werk tot wedersydse voordeel. Kontrakte word dikwels op skrif gestel en deur of namens die partye onderteken, en getuies word versoek om die handtekeninge te bevestig deur hulle eie handtekeninge daarop aan te bring.

Wanneer ’n party sy of haar handtekening op ’n regsstuk aanbring, dui daardie party daarmee aan dat hy of sy bewus is van die inhoud van die stuk en bereid is om met daardie inhoud vereenselwig te word (Meter Motors (Pty) Ltd v Cohen 1966 2 SA 735 (T); Handulay v Smith NO 1984 3 SA 308 (C)). Maar tot watter mate is ondertekening ’n vereiste vir die geldigheid van ’n kontrak en wat is die gevolge indien ’n kontrak nie onderteken is nie?

2 Historiese Ontwikkeling

Oorspronklik is kontrakte ingevolge die Romeinse reg gesluit deur die uitruil van streng formalistiese mondelinge verklarings in die teenwoordigheid van transaksiegetuies. ’n Party wat later die kontrak sou ontken was onder die Twaalf Tafels (Tab 6 1) aanspreeklik om dubbel die waarde van die betrokke eindom te betaal. Mettertyd het hierdie streng formalistiese verwisselings plek gemaak vir kontrakte gegrond op wilsooreenstemming tussen die partye (I 3 15 1). Uiteindelik het Paulus (Sententiae 1 1 1, 2 2 1) aangedui dat kontraktuele verpligtinge ontstaan het uit wilsooreenstemming alleen, en Ulpianus (D 16 3 1 6), sowel as Modestinus (D 10 7 52 9), het saamgestem dat kontrakte hulle regskrag verkry deur blote wilsooreenstemming.

Die Romeinse reg het vier breë kategorieë van kontrakte erken (Gaius 3 89). Contractus verbis was ’n oorblyfsel van vroeër tye en die kontrak was gesluit deur die uitruil van formele mondelinge verklarings (Gaius 3 92; I 3 15) of, in die geval van sekere kontrakte betreffende eensydige prestasie, by wyse van eedsverklaring. Hierdie formele woorde (of eed) was nie soseer formaliteite waaraan voldoen moes word om ’n kontrak geldig te maak nie, maar eerder ’n manier om die bestaan van ’n kontrak te bevestig (Gaius 3 105). Contractus re, of saaklike kontrakte, het die oordrag van saaklike regte behels, en het ’n ritueel vereis waar die saak wat verkoop is en die koopprys fisies of simbolies gelewer moes word (Gaius 3 90; I 3 14). Weereens was die doel van hierdie rituele heel-waarskynlik meer gerig op die bevestiging van ’n ooreenkoms, eerder as die daarstelling van streng formaliteite vir die geldigheid van sodanige kontrak. Contractus litteris was ’n vroëe vorm van ’n skriftelike kontrak, en het ’n inskrywing in die joernaal van die paterfamilias behels (Gaius 3 128; I 3 21). Hierdie inskrywing het gedien as bewys dat die partye wel op al die verpligtinge ooreengekom het (Gaius 3 131, 134). Contractus consensu was gebaseer op blote ooreenkoms tussen die partye (Gaius 3 135; I 3 22) en kon, volgens Modestinus (D 10 7 52 10) selfs stilswyend gesluit word as daar aanduidings van instemming was. Dit blyk dat geeneen van hierdie kontrakte enige verdere formaliteite vereis het om geldig te wees nie (Tab 6 1; Gaius 3 92 ev).

Mettertyd het partye op ’n meer gereelde basis begin om die bedinge van hulle kontrakte op skrif te stel (Du Plessis "The Roman Concept of lex contractus" 2006 Roman Legal Tradition 79 79 ev). Teen die derde eeu was dit algemene praktyk en partye het hulle instemming aangedui deur die skriftelike dokument met ’n seëlring te veseël (Lex Acilia 41; I 2 10 5; C 4 51 2).

Soos die Christendom posgevat en deur die Romeinse Ryk versprei het, het ’n nuwe ritueel tot stand gekom: in plaas daarvan om bloot hulle wilsooreenstemming teenoor mekaar op die gepaste wyse te bevestig, het partye begin om ook wedersydse verpligtinge met ’n eed te bevestig, en so hulleself voor God te verbind om hulle verpligtinge na te kom soos ooreengekom. Waar ’n kontrak beide deur skrif en deur eed bevestig is, het die partye met hulle eie hande die kontrak gemerk met ’n “X”, wat die teken van die Heilige Kruis verteenwoordig het (Novellae Leonis 72). Met ander woorde, die partye het die skriftelike stuk “geteken” om hulle instemming om aan die kontrak gebind te word te bevestig.

Teen die vyfde eeu het Keiser Leo I verorden dat stukke wat privaat gesluit is, sowel as enige ander kontrakte, geldig sou wees ongeag of hulle in die handskrif van die betrokke partye geskryf is of nie, of hulle onderteken is deur die partye of nie, en of hulle deur getuies bevestig is of nie (C 8 18 11).

Dit blyk dat opskrifstelling en ondertekening in Romeinse Reg hoofsaaklik gedien het om instemming te bevestig, eerder as ’n formaliteit wat vereis was vir die geldigheid van ’n kontrak, en instemming kon gegee word sonder om ’n dokument te onderteken (D 20 6 8 15; C 6 42 22; C 8 54 31). Justinianus het verorden (C 4 21 16) dat:

    [n]iks van waarde is voordat hulle soos volg optree nie, óf by wyse van ’n skriftelike stuk wat die aantekening van een of albei partye bevat, óf deur hulleself in die openbaar ... inderdaad, selfs al is ’n koop nie op hierdie manier geldiglik aangedui nie, in soverre die koopprys vasgestel is, kan die verkoper verplig word om sy verpligtinge ingevolge die kontrak na te kom, indien óf die kontrak perfecta is, óf die koper die balans aan hom betaal het. (Eie vertaling. Die oorspronklike teks lees soos volg: “ut nulli liceat prius, quam haec ita processerint, vel a scheda conscripta, licet litteras unius partis vel ambarum habeat, vel ab ipso mundo ... ut nec illud in huiusmodi venditionibus liceat dicere, quod pretio statuto necessitas venditori imponitur vel contractum venditionis perficere vel id quod emptoris interest ei persolvere”.)

Kontrakte kon dus gesluit word óf op skrif óf sonder formaliteite in die teenwoordigheid van getuies. In soverre dit betrekking het op skriftelike kontrakte, is dit van belang dat hierdie paragraaf verwys na ’n dokument wat die aantekening (litteras) (of letterlik, die “letters”) van een of albei partye bevat, eerder as hulle handtekeninge (subscriptiones). Hierdie was waarskynlik ’n verwysing na aantekening in die sin van die contractus litteris en dit dui daarop dat blote skrif voldoende was en dat ondertekening nie ’n vereiste was vir die geldigheid van sulke kontrakte nie. Dit is ook beduidend dat ’n kontrak in die lig van hierdie bepaling steeds in sekere omstandighede geldig kon wees al het die partye nie voldoen aan enige formaliteite nie. Skrifstelling en handtekening het meestal net gedien as ’n bewys van die bestaan van ’n kontrak (C 4 2 14; N 73 1). Selfs met formele kontrakte, as daar ’n duidelike aanduiding was dat instemming teenwoordig was, het dit dus geen verskil gemaak as die kontrak nie onderteken was nie (D 26 8 20; C 5 4 2).

Justinianus het egter verorden dat sekere kontrakte aan voorgeskrewe formaliteite moes voldoen ten einde geldig te wees. Byvoorbeeld, waar ’n vrou ingestem het om as borg op te tree was dit uitdruklik bepaal dat die kontrak nietig sou wees indien dit nie vervat was in ’n stuk wat in die openbaar gedoen en deur drie getuies onderteken was nie (C 4 29 23 2). Net so was dit ’n vereiste dat enige lening met ’n waarde van meer as veertig mates goud, vervat moes wees in ’n stuk wat geteken was deur drie betroubare getuies (C 4 2 17). Dit is opvallend dat hierdie paragrawe uitdruklik ondertekening deur getuies vereis, maar swyg oor ondertekening deur die partye self. Een verduideliking kan wees dat hierdie klousules bloot impliseer dat die partye ook die betrokke kontrakte moes onderteken. Dit is egter meer waarskynlik dat die partye dikwels ongeletterd was en dus nie ’n kontrak met hulle eie hand kon onderteken nie (N 23 44; N 73 8). Die bedinge van die kontrak sou dan aan die partye in die teenwoordigheid van die getuies voorgelees word en die getuies sou die instemming van die partye bevestig deur die stuk te onderteken.

Die Romeins-Hollandse reg het die beginsel aangeneem dat kontrakte gegrond is op wilsooreenstemming (Van Leeuwen Het Rooms Hollandsch Recht 4 1 7; Van der Keessel Thesis Selectae 3 45 11; Van der Linden Regtsgeleerd, Practicaal en Koopmans Handboek 1 15 5 4, 4 6 7) en dat, in die algemeen, geen formaliteite vereis was om ’n kontrak geldiglik te sluit nie (Van Leuwen 4 16; Van der Keessel 3 18 3). Voet (Commentarius ad Pandectas 2 14 15) het beaam dat kontrakte in die algemeen óf uitdruklik óf stilswyend gesluit kon word.

In sekere gevalle het die reg vereis dat kontrakte aan sekere formaliteite moes voldoen. Van Leeuwen (4 21 8) verduidelik dat kontrakte vir die huur van ’n erf of die hernuwing van so ’n kontrak slegs geldig was indien dit gesluit was by wyse van ’n openbare geskrif wat deur die eienaar onderteken is. Op dieselfde basis sou ’n geskenk met ’n waarde van meer as vyfhonderd mates goud, nie geldig wees nie tensy dit by wyse van ’n openbare dokument uitgevoer is (Van Leeuwen 4 30 3). ’n Openbare dokument is bevestig en verly voor ’n notaris en twee getuies (Van Leeuwen 4 30 3). Weereens is dit interessant dat in een geval die teks nie die ondertekening deur die verhuurder noem nie, en in die ander geval word die ondertekening deur die partye self nie genoem nie. Dit word veronderstel dat onderttekening in hierdie gevalle nie vereis was nie om dieselfde rede dat hulle handtekeninge nie ’n vereiste in die Romeinse reg was nie, en die geldigheid van ’n kontrak kon ook in die algemeen bewerkstellig word deur die getuies se bevestiging (Voet 12 1 27). Verder verduidelik Van der Keessel (3 19 3) dat waar ’n kontrak vir die huur van grond nie skriftelik hernu is nie, die huurder die perseel moes ontruim, maar hy kon dan steeds aan ’n hof bewys dat die huurkontrak mondelings hernu is sonder skrifstelling.

Kontrakte is meestal op skrif gestel en onderteken om bewys daarvan te vergemaklik, en nie omdat opskrifstelling of ondertekening formali-teite was waarsonder sulke kontrake nietig sou wees nie (Voet 12 1 26; Van Leeuwen 4 15 1). Partye kon wel ooreenkom dat ’n kontrak slegs geldig sou wees nadat dit op skrif gestel en onderteken was, en die reg het so ’n ooreenkoms erken (Van Leeuwen 4 15 1).

Pothier (Traité des Obligations 2 6 4 3) het ook gemeld dat kontrakte in die openbaar voor notarisse gesluit kon word, onder private handtekening of mondeling, en Domat (Lois Civiles dans leur Ordre Naturel 1 1 2 1 3 (par 260)) het bygevoeg dat dit oor die algemeen nie ’n verskil gemaak het of ’n kontrak voor getuies of in hulle afwesigheid gesluit was, of dit op skrif of mondeling gesluit was, of dit onderteken of nie onderteken was, en of dit voor ’n notaris of privaat gesluit was nie (Domat 1 1 1 11, 12 (parr 154, 155)). Skriftelike bewys kon gelewer word deur ’n openbare of private handeling wat onderteken is, of ten minste deur die partye geskryf is (Pothier 4 1 1 2).

Die reg het vereis dat sekere kontrakte, soos ’n lening vir ’n bedrag van meer as 100 livres, op skrif moes wees, maar die tekste noem nie of ondertekening vereis is nie. Selfs dan was die skrifstelling bewysmatig eerder as substantief, en die kontrak was geldig al was dit nie op skrif gestel nie (Pothier 1 1 1 2). Een rede daarvoor kan wees dat baie mense steeds ongeletterd was en nie veel meer as hulle eie name kon skryf nie (Pothier 4 1 2 1).

Ondertekening het meestal net gedien as bewys van die voorneme om gebonde te wees (Domat 1 3 6 2 (par 2016)) en in die afwesigheid van ondertekening kon ’n kontrak steeds bestaan indien ’n party uitdruklik verklaar of andersins te kenne gee dat die kontrak aanvaar word (Pothier 4 1 2 5; Domat 1 1 1 10 (par 153)). Nietemin kon partye ooreenkom dat hulle kontrak slegs geldig sou wees indien daar aan sekere formaliteite, soos verlyding voor ’n notaris, voldoen is en die reg het aan die partye se wense uitvoering gegee (Domat 1 3 6 2 6 (par 2024)).

Dit is dus duidelik dat die gemenereg nooit ’n algemene reël ontwikkel het dat voldoening aan vereistes, soos opskrifstelling en ondertekening, noodsaaklik was vir die geldigheid van ’n kontrak nie. Die ou geskrifte stem ooreen dat enige formaliteite wat wel deur die reg voorgeskryf was, bewysmatig en nie substantief van aard was nie, en dus dat nie-nakoming aan die formaliteite nie noodwendig tot nietigheid van die kontrak gely het nie.

Die posisie in die gemereg kan daarom soos volg opgesom word:

(1) As ’n algemene reël is geen formaliteite voorgeskryf vir die geldige sluiting van ’n kontrak nie, en ’n kontrak kon uitdruklik of stilswyend gesluit word.

(2) Waar partye besluit het om hulle kontrak op skrif te stel, ongeag of die geskrewe stuk deur die partye onderteken is, aldan nie, is dit meestal gedoen om bewys van die ooreenkoms te vergemaklik.

(3) Indien die partye duidelik vooraf ooreengekom het dat hulle kontrak slegs geldig sou wees indien dit op skrif gestel is, sou die kontrak nie geldig wees tensy dit op skrif gestel is nie. Die partye kon ook ander formaliteite soos ondertekening voorskryf en dit sou insgelyks ’n vereiste wees vir die geldigheid van die kontrak.

(4) Waar ’n regsreël aangedui het dat ’n kontrak op skrif gestel moes word was die handtekeninge van die partye nie noodwendig nodig nie, en die opskrifstelling het meestal gedien om die bewys van die transaksie te vergemaklik. As daar nie aan die formaliteite voldoen is nie kon die kontrak steeds geldig wees, mits ’n party op ’n ander manier wilsooreenstemming kon bewys, byvoorbeeld deur middel van getuies.

(5) Waar ’n regsreël spesifiek voorgeskryf het dat ’n kontrak slegs geldig sou wees indien dit aan formaliteite soos opskrifstelling en ondertekening voldoen het, of dat ’n kontrak nietig sou wees indien dit nie aan die formaliteite voldoen nie, dan kon ’n kontrak nie bestaan tensy aan daardie formaliteite voldoen is nie.

3 Huidige Posisie

Dit word algemeen aanvaar dat kontrakte vandag gegrond is op werklike of oënskynlike wilsooreenstemming (Cecil Nurse (Pty) Ltd v Nkola 2008 2 SA 441 (SCA)). As die partye ooreenkoms bereik met die ernstige en bewuste bedoeling om verpligtiginge daar te stel en om daaraan gebonde te wees, dan verskaf dit ’n voldoende basis vir kontraktuele aanspreek-likheid (Conradie v Rossouw 1919 AD 279) en dit is oor die algemeen nie nodig om die kontrak op skrif te stel of om aan enige ander formaliteite (Goldblatt v Freemantle 1920 AD 123 128), soos ondertekening, te voldoen nie (Roberts v Martin 2005 4 SA 163 (C)).

3 1 Vorm Bepaal Deur die Partye

Partye stel dikwels hulle kontrakte op skrif en onderteken die skriftelike stuk, maar die vermoede bestaan dat dit bloot gedoen word om bewys te vergemaklik (Woods v Walters 1921 AD 303) en dit het geen impak op die bestaan of geldigheid van die kontrak nie. Wanneer ’n party ’n skriftelike kontrak onderteken word aanvaar dat die betrokke party bekend is met die bepalings van die kontrak (Meter Motors (Pty) Ltd v Cohen 1966 2 SA 735 (T); Handulay v Smith NO 1984 3 SA 308 (C)) en die ondertekening dui aan dat die party die bedinge van die kontrak aanvaar, ooreenkomstig die caveat subscriptor-reël (Cecil Nurse (Pty) Ltd v Nkola 2008 2 SA 441 (SCA); Hartley v Pyramid Freight (Pty) Ltd t/a Sun Couriers 2007 2 SA 599 (SCA)).

Waar die partye duidelik ooreenkom dat hulle kontrak nie bindend sal wees nie tensy dit op skrif gestel en deur die partye onderteken is, sal ’n hof uitvoering gee aan sodanige uitdruklike bedoeling van die partye (Goldblatt v Freemantle 1920 AD 123 129; Cecil Nurse (Pty) Ltd v Nkola 2008 2 SA 441 (SCA); Blake v Cassim 2008 5 SA 393 (SCA)). Selfs in so ’n geval kan die partye steeds hulle vorige ooreenkoms dat hulle kontrak nie bindend sal wees tensy dit aan sekere formaliteite voldoen nie, ongedaan maak, en die kontrak mondelings of stilswyend sluit (Clemans v Russon Bros (Pty) Ltd 1970 3 SA 686 (E)).

In First National Bank v Avtjoglou 2000 1 SA 748 (C) het regter Maya beslis dat ’n vorige ooreenkoms tussen die partye dat hulle kontrak slegs geldig sou wees indien dit (op skrif gestel en) deur albei partye onderteken is, neerkom op ’n voorwaardelike verbintenis en dat, indien enige party sou weier om die skriftelike kontrak te onderteken, die leerstuk van fiktiewe vervulling ingespan sou word om daardie party aanspreeklik te hou ingevolge die kontrak asof dit wel onderteken was. Op appèl is hierdie gevolgtrekking tereg bevraagteken (maar nie omvergewerp nie) deur die volbank van die Wes-Kaapse Hooggeregshof (Avtjoglou v First National Bank [2002] 2 All SA 1 (C)). ’n Voorwaardelike verbintenis, per definisie, stel die aanvang van ’n kontrak uit totdat ’n onsekere toekomstige gebeurtenis plaasvind of nie plaasvind nie (Southern Era Resources Ltd v Farndell 2010 4 SA 200 (SCA) 206), en voldoening aan die voorwaarde kan nie in geheel afhang van die wil van enige van die partye nie (Withok Small Farms (Pty) Ltd v Amber Sunrise Properties 5 (Pty) Ltd [2009] 2 All SA 65 (SCA) 68). Die besluit om die geskrewe kontrak te onderteken of dit nie te onderteken nie, lê uitsluitlik binne die wil van elke party en die belangrikste element van ’n voorwaardelike verbintenis is dus afwesig. ’n Beter konstruksie is dat ’n voorafgaande ooreenkoms tussen die partye (dat hulle kontrak slegs geldig sal wees as dit op skrif gestel en deur beide partye onderteken is) daarop dui dat daar, hangende voldoening aan die ooreengekome formaliteite, nog geen ernstige en bewuste voorneme is om verpligtinge te skep nie. Op die meeste kan so ’n voorafgaande ooreenkoms ’n pactum de contrahendo daarstel, wat nie enige verpligtinge skep (Letaba Sawmills (Edms) Bpk v Majovi (Edms) Bpk 1993 1 SA 768 (A) 773I) totdat die skriftelike stuk voortgebring en onderteken is nie.

3 2 Formaliteite van Regsweë Voorgeskryf

Somtyds word formaliteite ook by wet voorgeskryf. Die aard en omvang van sulke formaliteite, en die gevolge van die nie-nakoming daarvan, hang af van die uitleg van die bepaalde wet. Eerstens moet enige wetsbepaling uitgelê word ooreenkomstig die gemenereg (Fish Hoek Primary School v GW 2010 2 SA 141 (SCA) 147A) eerder as strydig daarmee, tensy dit duidelik is dat die wetgewer die gemeneregtelike posisie wou verander (Kleynhans v Wessels 1998 4 SA 1060 (SCA)). Dit is ’n gevestige beginsel van wetsuitleg dat ’n wet nie die gemenereg meer wysig as wat nodig is nie, en dan ook net soos uitdruklik aangedui in die betrokke bepaling (Menqa v Markom 2008 2 SA 120 (SCA) 132I-133A).

Gevolglik, wat die nakoming van statutêre formaliteite betref, geld die gemeenregtelike reëls, soos hierbo uiteengesit, steeds tensy ’n wetsbepaling duidelik anders bepaal. Eerstens beteken dit, as ’n algemene reël, dat ’n kontrak nie aan enige formaliteite hoef te voldoen nie, behalwe waar die betrokke wetsbepaling duidelik anders aandui.

Dus, waar artikel 15(3) van die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 bepaal dat ’n eggenoot wat binne gemeenskap van goedere getroud is, nie sekere kontrake mag sluit sonder die toestemming van die ander eggenoot nie, kan daardie instemming informeel of stilswyend gegee word aangesien artikel 15(3) geen formaliteite voorskryf nie (Bopape v Moloto 2000 1 SA 383 (T) 386G).

Net so, waar ’n wetsbepaling voorskryf dat ’n kontrak op skrif moet wees, beteken dit nie noodwendig dat die skriftelike stuk ook onderteken moet word nie. Byvoorbeeld, artikel 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981 vereis dat enige verteenwoordiger wat ’n vervreemdingsakte namens die koper of verkoper onderteken, moet handel op die skriftelike volmag van daardie party. In Hugo v Gross 1989 1 SA 154 (C) het regter Friedman beslis (162F-163A):

    [t]hat the principal is not required to sign the agent’s authority and that any form of writing would be sufficient, [and] it is possible for such writing to take various forms, subject, of course, to authentication. Clearly, if the principal himself writes the authority, that would be sufficient. If he were to call in his secretary, dictate an authorisation to her and request her to type it, that would also constitute the principa’s written authority. There would, likewise, be no difference between the last example and a situation in which the principal conveys his instructions telephonically to his secretary who, in turn, types the authority on the basis of such instructions. Taking it a stage further, if the principal happened to be overseas and he were to telephone his secretary in Cape Town and dictate to her an authorisation, such authorisation, when typed, would, in my view, constitute the principal’s written authority.

    In the instant case the evidence is that, ... respondent telephoned the post office and instructed the post office to convey to the addressee, ... the message which she dictated to the postal official. The message was transmitted to the Pinelands Post Office by telex, i.e. it arrived in a typed form and was delivered in that form ... Accordingly, what Mr. Voogt had when he signed the deed of sale, was a written authority which emanated from his principal, the respondent.

In Van der Merwe v DSSM Boerdery BK 1991 2 SA 320 (T) (328 ev) het die verteenwoordiger, in die teenwoordigheid van die verkoper, op die vervreemdingsakte geskryf dat hy namens die verkoper optree in die verkoop van die eiendom. Regte Schabort het beslis dat hierdie ’n geldige skriftelike volmag was om die vervreemdingsakte namens die verkoper te onderteken, soos vereis deur artikel 2(1), al was dit nie deur die verkoper onderteken nie.

’n Soortgelyke bepaling word gevind in artikel 5 van die Algemene Regswysigingswet ( 50 van 1956) . ’n Uitvoerbare skenking is slegs geldig indien die bedinge van die skenking op skrif gestel en onderteken is deur die skenker of ’n persoon wat optree ingevolge die skriftelike volmag van die skenker, wat gegee is in die teenwoordigheid van twee getuies. Waar aan iemand ’n skriftelike volmag gegee is om die kontrak namens die skenker te onderteken, is nóg die handtekening van die skenker, nóg die van die twee getuies, ’n voorvereistes vir die geldigheid van die volmag (Owens “Donations” in LawSA 8 (1) (red Joubert) (2005) par 309).

Op dieselfde wyse, waar artikel 15(2) van die die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984 bepaal dat ’n eggenoot wat binne gemeenskap van goedere getroud is, nie sonder die skriftelike toestemming van haar eggenoot sekere kontrakte mag sluit nie, is die handtekening van die eggenoot nie noodwendig vereis nie, en die skriftelike toestemming mag op enige ander gepaste manier bevestig word (Joubert “Marriage” in LawSA 16 (red Joubert) (2006) par 73).

Verder bepaal die gemenereg dat waar opskrifstelling (met of sonder ondertekening) vereis word, is die vemoede dat die opskrifstelling (en ondertekening) hoofsaaklik dien om die bewys van ’n transaksie te vergemaklik en ’n kontrak wat nie aan die voorgeskrewe formalitieite voldoen nie sal slegs nietig wees waar die betrokke wet duidelik bepaal dat dit die geval sal wees indien die kontrak nie aan die formaliteite voldoen nie. Byvoorbeeld, artikel 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond (68 van 1981) bepaal dat:

    [g]een vervreemding van grond ... sal ... van krag wees nie tensy dit vervat is in ’n vervreemdingsakte wat deur die partye daartoe of deur hulle agente, handelende op hulle skriftelike gesag, onderteken is nie.

Hierdie bepaling maak dit baie duidelik dat ’n gewaande vervreemding van grond geen regskrag of gevolg sal hê nie, of nietig sal wees, tensy dit aan die formaliteite van opskrifstelling en ondertekening voldoen. Gevolglik het die formaliteite van opskrifstelling en ondertekening nie net bewyswaarde nie, maar is ook substantiewe vereistes vir die geldigheid van ’n kontrak vir die vervreemding van grond.

Waar die handtekeninge van beide partye substantiewe vereistes vir die geldigheid van ’n kontrak is, beteken dit nie dat die bepalings van die kontrak en die handtekeninge van die partye noodwendig in een dokument vervat moet wees nie. ’n Aanbod, geskryf en onderteken deur een party in een dokument, en ’n aanname van daardie aanbod, geskryf en onderteken deur die ander party in ’n ander dokument, sal voldoen aan die formaliteite vereis deur artikel 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond (68 van 1981) (Johnston v Leal 1980 3 SA 927 (A) 937G-H; Trever Investments (Pty) Ltd v Friedhelm Investments (Pty) Ltd 1982 1 SA 7 (A) 18C-E; Hirschowitz v Moolman 1985 3 SA 739 (A) 758). Daar is geen vereiste dat die partye in mekaar se teenwordigheid moet teken, of dat hulle tegelykertyd teenwoordig moet wees nie, en selfs as hulle op verskillende dae die kontrak teken sal dit steeds voldoen aan die formaliteite (In re Schaffer 1920 NPD 240).

3 3 Getuies

Net soos die ondertekening van skriftelike kontrakte in die moderne handelsomgang ’n belangrike ritueel geword het, so ook het die attestering deur getuies ’n belangrike element van die ritueel geword. Maar die algemene reël dat dit nie nodig is om ’n kontrak op skrif te stel (of te onderteken) nie, geld ook in hierdie verband (Goldblatt v Freemantle 1920 AD 123 128). Die beginsels hierbo uiteengesit met betrekking tot ondertekening deur die partye is eweneens toepaslik op bevestiging deur getuies. Dit beteken dat dit in die algemeen nie nodig is vir partye om hulle kontrak te sluit in die teenwoordigheid van getuies nie, tensy daar ’n wetlike bepaling is wat uitdruklik getuies vereis. Selfs al word getuies vereis, beteken dit nie noodwendig dat die getuies die kontrak moet onderteken om dit te bevestig nie (Owens LawSA par 309; Joubert LawSA par 73), tensy die wetsbepaling duidelik stel dat bevestiging ’n substantiewe vereiste vir die geldigeid van die kontrak is.

4 Gevolgtrekking

Terwyl ondertekening deur die partye en getuies ’n ritueel is wat partye gereeld eerbiedig wanneer hulle ’n kontrak sluit, is dit ook ’n ritueel wat meestal verkeerd verstaan word en selde nodig is om die kontrak geldig te maak. Kontrakte hoef in die algemeen nie aan enige formaliteite te voldoen nie, en kan uitdruklik of stilswyend gesluit word. As die partye sou besluit om hulle kontrak op skrif te stel, of ’n wetsbepaling sou na ’n skriftelike kontrak verwys, is die vermoede dat die doel van die opskrifstelling bewysmatig eerder as substantief is. Net so, waar die skriftelike kontrak deur die partye onderteken is, dien die handtekeninge as bewys dat die skriftelike stuk díe van die partye is en om aanname van die bedinge wat in die stuk vervat is, aan te dui in lyn met die caveat subscriptor-reël. Die afwesigheid van handtekeninge alleen sal nie veroorsaak dat die kontrak tussen die partye nietig is nie.

Dit is slegs waar die partye uitdruklik vooraf ooreenkom dat hulle kontrak net geldig sal wees indien dit op skrif gestel en onderteken is, of waar ’n wetsbepaling duidelik stel dat ’n kontrak slegs geldig sal wees indien dit op skrif gestel en onderteken is, dat ondertekening ’n substantiewe vereiste vir die geldigheid van daardie kontrak word. En dit is slegs in daardie geval dat die afwesigheid van handtekeninge op sigself die kontrak nietig maak.

SJ CORNELIUS

Universiteit van Pretoria